Scroll Top

Vir Ouma – ‘n Lofspraak

vir-ouma-n-lofspraak

Ek dink aan Ouma se stoel in die sitkamer wat leeg is; sonder koue hande wat besig is om te hekel, sonder bene onder ‘n kombers toegegooi. Ek hoor Ouma steeds lag en voel Ouma se wang teen myne wanneer die laaste drukkie nooit lank genoeg was nie. Ek sien steeds Ouma se oë ophelder wanneer een van Ouma se potplante begin blom en hoor Ouma trots vertel by wie Ouma die plant gekry het. Ouma kon hulle almal op die naam noem. Ouma was oplettend; Ouma kon in stilte hoor wat niemand anders besef het eers gesê is nie. Ouma kon die seer weg vat sonder om eers te weet daar is ‘n wond. Ouma het altyd met soveel liefde gegee sonder om terug te vra. So baie mooi dinge geskep, sonder om erkenning te eis. Baie in my het verander omdat Ouma altyd dieselfde was. Vol begrip en deernis. Vol blydskap en tevredenheid. Vol liefde. Ouma se stoel in die sitkamer is nie leeg nie, net stil. Ek vryf oor ons kind se kombersie wat Ouma, met liefde, gehekel het en besef hoe dankbaar ek is dat Ouma my geleer het om in die stilte te hoor wat nie almal kan nie. Die engele juig oor die blom wat haar verskyning maak op die regte tyd; hulle noem haar op haar naam. En dan hoor ek Ouma lag.

Add Comment