Scroll Top

Stille waters, diepe grond…êrens ry Hello Kitty op haar unicorn rond

Ek is nie seker of julle onlangs die YouTube video van Leoni Venter gesien het nie? Dit is ‘n opname van haar protes teen Lady Gaga se kuiertjie in Suid Afrika. Persoonlik is ek nie ‘n Gaga-aanhanger nie. Haar idee var self-bemarking staan my eenvoudig nie aan nie. Die video is bietjie lank. En ontstellend. BAIE ONTSTELLEND.

Vir my in elk geval.

Wel, ek het dit begin kyk sonder om vooraf te oordeel of ander kykers se kommentaar daaroor te lees. Dit het begin as redelik (net bietjie redelik) aanvaanbaar – en ek het selfs gedink Venter het ‘n goeie punt beet met die vleis skoene – maar toe sy Hello Kitty die bybetekenis gee van HELL-OH-KITTY, het ek stadig my koel begin verloor. Nie net is Hello Kitty nou ‘n kultus nie, maar ook was sy voorheen Sneeuwitjie. Waar het ons sprokies dan verkeerd gegaan? Wanneer het hierdie beeldskone prinses verander in ‘n klein vriendelike katjie wat ek op meer as een kledingstuk het? En as ek dan nou hierdie metamorfose gemis het, wanneer het Kitty die duiwel se melk begin drink?!

Ek het kalm probeer bly. Ek het die swak gebruik van Afrikaans geïgnoreer. Geduldig het ek gesit en luister….Kaartjieverkope….19 Junie… 21 Junie… Kortste dag… Langste nag… Nee! Wag net so bietjie! Dit is my verjaarsdag daardie, Mevrou Venter! Wat anders probeer jy vir my en Prince William en duisende ander mense sê? Sekerlik is ek nie van die bose nie? Met my ses vingers aan die linkerhand, my ander ses aan die regterhand….en waaragtig! Ses tone aan die regtervoet ook nog! ‘n Trippel ses gebore op 21 Junie. Nou kook my bloed behoorlik! Links van die regering is ek; my ma sê al vir jare so, maar van die bose? Nee. Mý hart sit op die regte plek.

Baie omgekrap kyk ek die video verder. En toe kom die ergste: ‘n Unicorn is ook van die duiwel af! My pienk, donserige unicorn waarop ek daagliks deur my verbeelding galop.  My unicorn wat kan vlieg oor reënboë terwyl hy pienk wolkies met sy hoewe wegskop.

Nou is ek eenvoudig die springende bliksem in.

Ek kyk verder. (Glo dit of nie!) Vroeër het ek gesê “toe kom die ergste”, ek het dit nie bedoel nie. TOE kom die ergste REGTIG: “Wanneer jy ‘n skildery maak en daai skildery is geïnspireer deur ‘n gees van depressie en iemand koop daai skildery en jy hang hom in jou huis, dan maak jy ‘n gees van depressie los, want daardie mag sê ek het hom geïnspireer. So daardie skildery behoort eintlik aan my en waar hy is het ek wettige reg want ek is eintlik die uitvinder daarvan. En dit is hoe dit werk in die geestes realm. En mense verstaan die nie altyd nie.”

Nou is ek nie meer so eenvoudig kwaad nie. Nou is ek totaal en al verlore in ‘n donker wêreld van aggressie. (Ek veronderstel vanweë die uitdrukking “die duiwel in”). Ek kyk nie verder nie.

Mense sit die duiwel in ALLES. Dit ontstel my. Hier in my geesteswêreld is alles mooi. My unicorn vat my na plekke waar die duiwel nie kan kom nie. Ek slaap lekker in my Hello Kitty pajamas wat al jare oud is. My kuns is vir my mooi (meeste van die tyd), al is dit somtyds geïnspireer deur depressie. Ons is nie almal so gelukkig om permanent die sielkundige te besoek nie.

Mevrou Venter, loop soek jou Satan op ‘n ander plek. In LanaLand is nie plek vir hom nie.

 

 

 

 

 

2 Comments

eleanor
Reply
December 7, 2012 at 8:21 am

Somige mense soek net drama! Daar is min goed wat my so irriteer as mense wat die wereld self vir hulle moeilik maak. Ek noem myself trots ‘n Christen en skaam my so vir DIE wat diuwels in als soek, is ons plek nie om goed in als te vind nie? Vervlaks man, mense maak my moeg.

Lana
Reply
December 7, 2012 at 9:26 am

Drama, shock en horror 😀

Om heeltyd die sleg te soek maak mens net vinnig oud en onnodig ongelukkig.

Add Comment