Ek het in ‘n huishouding groot geword waar spelling regtig ‘n groot ding was. Daar was ‘n dagboek langs die telefoon waar ons moes aanteken waarheen ons gaan en wanneer ons sal terug wees en my ma het ons woorde twintig keer laat uitskryf langs jou aantekening as jy ‘n spelfout gemaak het. Ek belowe! (Sy korrigeer my nog steeds as ek ‘n fout maak in ‘n sms!)

Met die spelling-obsessie waarmee ons groot geword het sou mens dink dat iemand êrens ‘n lyn moes trek en sê: Tot hier toe en nie verder nie. Wel, ek het die potlood opgetel, die lyn getrek en gesê: Ek is Lana. Ek is gatvol om E-lana of A-lana of enige iets-lana genoem te word. (Dit is skrikwekkend watter kombinasies al na vore gekom het!) Ek is in werklikheid gedoop as Ilana en word net so genoem as ek raas kry. (en die verkorting daarvan, Ili, wat net mense wat my baie lank ken mee wegkom)

Later het niemand meer vrae gevra nie. Ek het nie meer nodig gehad om dit uit-te-spel of met die wysvinger te beduie dat dit ‘n kolletjie “ie” is nie. Die probleme was verby…tot ek getroud is ‘n paar jaar later.

Jou naam en van? Lana Breedt.
Vollenaam? Ilana met ‘n kolletjie “ie”.
Nooiensvan? Breedt.
Jou man se van? van der Horst.

Noem my ‘n verraaier of steeks of enige iets wat jy wil, maar ek het inderdaad my nooiensvan gehou. Hoekom? Wel, om te sê “want ek kan” sal nie regverdig wees nie, want baie mense word nie die opsie gegee nie. So ek sal eerder sê: want ek is die keuse gegee om te kan. Laat ek dit so stel: Ek was EK in my volle glorie sewe jaar terug toe ek my man ontmoet het en hy het my aanvaar vir dit. Teen die tyd dat ons begin praat het oor trou, het hy uit sy eie aangebied en gesê ek kan bly wie ek is. Ek is dan mos nou sy vrou.

So het fase twee van die naam-en-van-vrae begin. Ek is nog op soek na ‘n eenvoudige “kolletjie-ie-handgebaar” om alles makliker te verduidelik, maar tot dan, bly ek nog steeds Lana.

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest