Volmaan – ‘n Gedig

Volmaan – ‘n Gedig

(Ek weet ongelukkig nie wie die prentjie geteken het nie.)

Onafhangende van wat jy mag dink, hierdie gedig is nie oor verlore liefde of enige iets soos dit nie. Ek het die gedig geskryf terwyl ek nog op skool was. Ons was in Mosambiek een vakansie en dit was volmaan die aand. Wanneer mens alleen sit, omsingel deur donker en stilte en die oneindige blou see, kan mens dit nie help om besonders klein te voel terwyl jy sit en verlang na iemand wat jy nie ken nie, en ook waarskynlik nie gaan ontmoet nie. Min dinge is so mooi soos die volmaan wat oor die see verskyn. Ongelukkig was die wolke daai aand van so aard dat ek nie die maan kon sien opkom nie. En dit is bloot waaroor die gedig gaan.

stowwerige silwer
blinkende blou smart
êrens in die grys heelal
blink daar nog ‘n hart

spikkeltjies kwik verduister
swart bome afgebrand
weet ek iemand luister
na die potlood in my hand

swart soutwater in my wonde
berge wolke bo my kop
sand kriewel tussen my tone
mismoedig gee ek op

baie liefde,

Die prinses en die ertjie – ‘n Gedig

Die prinses en die ertjie – ‘n Gedig

prinses en die ertjie

Prentjie: Soju Shots

 

 

Die prinses en die ertjie

verdwaald in my emosie
verdoof deur gedagtes
van gister tot vandag
tot die innerlike gedeelte van my alles

my alles het tot niet omgekom
my alles tot oorverdowende stilte verstom
my alles die illusie van ‘n plek altyd verder
my alles nou kronkelpad krom

die spore van voete steeds onbekend
growwe sout hardhandig op my wonde aangewend
my are wil bars van frustrasie
strome vloei vanuit my hart – geskend

ek is die weerkaatsing in ‘n modderspieël
die vertakking in ‘n doringboom
die dagdroom van ‘n blinde
ek is die groen ertjie onder die matras

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

Die prinses en die ertjie – ‘n Gedig

Lydenburg – ‘n Gedig

Lydenburg

Ek wil van jou ontslae raak
Maar ek kan nie.
Ek wil meer en meer van jou vergeet
met elke tree wat ek gee
en elke keer as die son sy rooi tapyt
na die duisternis oopmaak.

Ek wil jou uitgooi en uitroei
en opgooi en uitbloei
en uitknip en vasplak
en bêre op my boekrak
saam met al die briewe wat ek nooit weer wil lees nie.

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

 

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

Pin It on Pinterest