Lank terug het my oupa vir ons ‘n liedjie geleer van Ou Tante Koba:

Ou Tante Koba is ‘n snaakse ou vrou,
sy loop net soos ‘n mank makou.

Ou Tante Koba sy is so bly
dat sy tog weer ‘n skoonseun kry.

Lank is die seun en kort is sy pa,
mooi is die dogter en lelik haar ma.

Wat nou dalk na ‘n baie onskuldige kinderliedjie mag klink was vir my as kind ongelooflik ontstellend. Alles was goed en wel; ek het aanvaar dat Ta’ Koba ‘n snaakse vrou was (my oupa het graag die versie gesing van dat sy so dom was dat sy haar koffie met haar groottoon om gemeng het) en dat sy vir jou snuif gee as jy eintlik vir melktert vra en dat sy haar suikerbrood pikswart verbrand, en, en, en.

MAAR: Elke keer as daar uit volle bors gesing word: “mooi is die dogter en lelik is haar ma”, het ek begin huil. Regtig: Ek het snot en trane gehuil. Hoe kan enige iemand dan nou so iets van mý ma sê? Ek is seker elke klein dogtertjie dink dat haar ma die mooiste in die hele wêreld is, en ek is nie van plan om met enige iemand daaroor te stry nie, maar my ma is vir my die mooiste. Sedert vandag Nasionale Vrouedag is het ek dit goed gedink om my moeder so klein bietjie af te show 😉 Sy is immers die eerste vrou met wie ek kennis gemaak het. En sy is – nog steeds – die ongelooflikste vrou wat ek ken.

Scan_20130727_164123_002_a

6456_139014856456_2621052_n

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest