Ek het so hele rukkie terug sommer net gevoel of ‘n trok my getref het. Eintlik is mens veronderstel om elke dag ‘n brief te skryf dink ek – wanneer jy goed en sleg voel. Al is dit net om op te vrommel in die drom te gooi. Ek het hierdie een vir my suster ge-epos. Dit is baie persoonlik, maar ek deel dit elk geval met jou. Dit gaan help as jy Gun Shy, oorspronklik deur 10,000 Maniacs, luister. Ek hou van hierdie weergawe alhoewel die een wat ek en my suster geluister het deur Natalie Merchant is.


Ek voel vanaand soos Natalie Merchant se Gun Shy. “As soon as and as far as you can go.” Ek weet nie of jy die brief onthou wat ek in my eerste jaar vir jou gepos het nie? Ek onthou nie die brief nie. Wat ek wel onthou is dat ek toe dieselfde gevoel het.

Nooit, tot vanaand, het ek besef dat ek eintlik net partykeer van myself af wil wegkom. As soon as and as far as I can go. Asof ek net vir myself wil skree: Fok net weg. Vinnig en vêr. Ek voel veral soos die laaste deel: They’re good at making soldiers, but they’re not as good at making men.

Ek voel net so vêr. Soos ‘n soldaat met al die badges, al die wapens, al die letsels van koeëls wat ek oorleef het. Maar wanneer ek snags op my bed lê, weet ek dit is alles verniet. Al die skote, al die veldtogte en oorloë en erkenning en oorwinnings en kak waaroor jy huis toe skryf op ‘n stuk papier wat êrens rond gewaai het. Alles voel net verniet. Hoe oorwin jy jou eie self? Jy bekruip jou eie vyand-self. Jy skuil vir die skote wat jy blindelings in jou eie rigting skiet. Die sneller van jouself onder ‘n vinger wat nie eers meer bewe nie. Palms wat nie meer sweet nie. Ek wens die oorlog was al verby. Maar ek is te braaf; te trots om te sê ek verloor.


Baie liefde,

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest