Vrydag, 21 Junie 2002

Liewe Lana,

Dit is vandag jou 18e verjaarsdag. Jou appelgroen polo-nek trui en swart baadjie lê netjies op jou bed, gereed om aangetrek te word vir die partytjie wat julle weke lank al beplan. Jy *mag* vandag – wettiglik – jou eie drank koop. Jy mag vanaand besonders laf wees, want jy is nou, wel, jy is nou seker groot.

Ek weet jy wens vandag dat dit jou laaste eksamen was, en nie net jou laaste vraestel vir die kwartaal nie. En ek weet dat jy vanaand wens jy was al eintlik bietjie ouer as net 18. Maar jy moet weet dat jy, vanaand oor twaalf jaar vanuit ‘n windlose Port Elizabeth, vir jouself ‘n brief sal sit en tik terwyl jy wens jy kon dit lees die aand van die twintigste Junie toe die klok 12h slaan en jy nie eers ‘n skoen van glas besit het nie. Jy moet ook weet dat jy, twaalf jaar later, steeds nie so paar skoene besit nie.

Ek wil nie jou hart breek nie, maar dinge het nie heeltemal uitgewerk soos jy beplan het nie. Inteendeel…

Wel, die goeie nuus is dat jy nooit ‘n Ingrid Jonker op jouself getrek het en die see ingeloop het sonder om jou asem te probeer ophou nie. Jy is ook nooit gearresteer nie. En jy het ook nie iemand aangerand nie.

Die Liewe Vader het jou gebede gehoor terwyl jy saans in jou kamer met oop vensters gelê en bid – smeek – het om asseblief net ‘n grafiese ontwerper vir ‘n tydskrif te wees. Jy was een. Nou wel nie vir die De Kat soos jy gehoop het nie, maar jy het ook nooit hardop daarvoor gebid nie. Jy was nooit spesifiek oor jou drome nie en het altyd verwag mense moes verstaan as jy sê “anywhere but here.” Jy het daar ook uitgekom later.

Jou hoërskool-liefde het ook nie baie lank na hoërskool jou liefde gebly nie. Trouens, Januarie voor julle gaan studeer het, het julle paaie geskei. Moet jou nie bekommer nie, julle albei was OK.

Jou novelle is nie gepubliseer nie. Nie noodwendig omdat dit nie goedgekeur was nie, maar jy het hom net nog nie klaar geskryf nie. Jy het nooit jou solo-uitstalling gehad om jou sin vir kuns uit te beeld nie, alhoewel jy tonne sketse het… party waaroor jy gekrap het soms wanneer jy kwaad geword het. Party wat jy in ‘n boek in jou ateljee wegbêre met die hoop om iets daarmee te doen.

Jy was nog nooit in die Kaap nie. Jy het nooit in New York gaan werk nie en jy het ook nog nooit jou vakansie in Spanje gaan geniet nie. Jy het nooit die “Cranberries live” gesien nie. (Onafhangende van wat jy nou dink, maar jy sal hulle ook nog ontgroei)

Maar, Lana, moenie bekommer nie. Dit klink baie erger as wat dit is.

Oor twaalf jaar gaan jy terugkyk en soms wonder waar jou drome heen is. Party aande gaan jy in ‘n donker kamer op ‘n ou koshuisstoel sit en jou rook uitblaas saam met wense dat jy baie dinge anders gedoen het. (Ja, jy rook nog steeds.) Jy gaan soms huil oor die woorde wat jy nie kan tik nie en die sketse wat jy nie kan teken nie en die vlugte wat jy nooit kon haal nie…

Maar weet dít: Vanaand oor twaalf jaar gaan daar vrede oor jou hart spoel omdat jy weet dat jou verkeerde besluite jou op regte paaie geneem het. Dat daar mense is wat jy nou ken wat nog steeds ‘n groot rol in jou lewe sal speel… en dat dié wat jy altyd gedink het jy sal altyd ken, maar nie meer ken nie, in werklikheid nooit nodig was om vir altyd te ken nie. Daar sal baie nuwe mense wees wat die leemtes – waarvan jou hart so vol is – sal vul. Jy sal vriende hê wat vir jou goud werd is. Jy gaan ‘n man ontmoet wat jou voete onder jou uitslaan. Jy sal nie nou verstaan nie, maar wees baie dankbaar dat hy nie ‘n kunstenaar, wynboer of die “drummer van ‘n band” is nie. Hy gaan jou dele van die wêreld wys waarheen jy nie met ‘n vliegtuig kan vlieg nie. Dele van jou hart oopmaak waar jy nie geweet het daar is deure nie.

Jy sal dankbaar wees om te hoor dat albei jou ouers nog leef en gesond is. Jou ma, glo dit of nie, is jou beste vriendin…alhoewel jy vir die volgende ses maande sal voel of julle nie in dieselfde kamp kan boer nie. Jou sussies het albei lieflike dogtertjies wat jou hart gesteel het. Jou “bestie” verwag nou ook ‘n dogtertjie! Nee, jy is nog nie self ‘n mamma nie 😉

Jou werk is nie noodwendig presies wat jy in gedagte gehad het nie, maar weet jý ooit wat jy in gedagte het ten opsigte van jou loopbaan? Jy sal ook nie oor twaalf jaar nie! Maar dit gaan pret wees, jy sal sien! Darem sal jy met eerlikheid kan sê dat jou “shitty-ste” dag by die werk, waarskynlik beter is as baie ander mense se beste dae. En dit tel baie.

Liewe Lana Twaalf-Jaar-Terug, geniet dit. Wees versigtig vir wolwe in skaapklere. Leer om nee te sê. Sluit jou deure – en maak seker jou sleutel is nie binne nie. Dink mooi wat jy doen – elke aksie het ‘n reaksie (jy behoort dit te weet al het jy nie wetenskap geslaag nie!) Sê altyd dankie… en weet wanneer om nie asseblief te vra nie.

Jy sal fine wees.

 

Baie liefde

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

 

 

 

 

 

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest