port elizabeth beachfront

Ons roomys uitstappie gister.

Gister het hubbles my verras met ‘n roomys uitstappie by ons “strontfront”. Die mooiste middag…so net voor die winter sy laaste koue oor ons gaan uitstort (erge koue front op pad!). Ons was lanklaas op die strand, het ek opgemerk. Ek het my opslag vervies dat ek soms so verstrengel kan raak in die dae se ure en aan die einde van elke week asseblief net rus en vrede wil hê… dat my lewe soms in my eie pad is en ek eintlik vergeet om net te leef.

Die eerste paar maande na ek Port Elizabeth toe getrek het, was ek elke dag op die strand – al was dit net vlugtig na werk om te gaan kyk of die see nog is waar ek hom gister gelos het. Soms dink mense jy raak, wel, om gewoond te sê sou dalk die regte woord wees, maar dit word dikwels verwar met ondankbaar of selfs uitgekuier. Maar ek dink nie dit is een van hierdie woorde nie. Ja, dit is waar: Nou, amper agt jaar nadat ek met al my aardse besittings in die vriendelike stad aangekom het, gaan ek nie meer elke dag strand toe nie. Inteendeel, ek gaan slegs strand toe as die weer regtig mooi is en ek nie iets anders het wat gedoen moet word nie. (Begin jare het ek vroeër op ‘n Saterdag werk toe gegaan net sodat ek strand toe kon gaan!) Jy doen wel moeite om eerder die ander pad te ry sodat jy die see kan sien, maar dit is nooit van so aard dat alles daarvolgens beplan word nie.

“So wat is die punt om by die see te bly as jy nooit strand toe gaan nie?” is ek al meer as een keer gevra. Die punt is dit: Elke oggend wanneer ek my koffie drink, groet die see my met ‘n sout-kus op die wang. Ek sien elke dag die see en dit is elke keer vir my so mooi soos die eerste keer. Ek sal nooit uitgekuier kan raak vir die see nie, nooit dit as vanselfsprekend aanvaar of ooit vergeet ons het ‘n see nie. Al gaan ek nie elke dag strand toe nie is dit lekker om te weet; sou ek die bevlieging kry in die middel van ‘n Maandag-oggend-vergadering, kan ek myself na die tyd in die sand gaan neersit en vir die volgende twintig minute vergeet dat ek eintlik in ‘n stad bly.

Nou moet ek dit net onthou 😉

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest