Ek was die naweek nege jaar in Port Elizabeth. Ek onthou dit werklik soos gister. Ons het vertrek op 27ste dag van September, 2005. Ek, my ma, my middelste sussie en my vriendin. Ons het oorgeslaap op Colesberg en op 28 September 2005 het ons, baie moeg en baie senuagtig, in PE aangekom.

Wat het ek gedink? Op die ouderdom van 21 weet mens mos nie eintlik wat jy wil en wat jy moet nie. Inteendeel. Jy weet niks – niks van enige iets nie. Nou vra jy seker: “So, wat hét jy gedink?” Weet jy, baie. Seker te veel op daardie stadium wat my jeugdige brein kon hanteer. Ek wou net weg. Weg van alles en almal en al die goed waaraan ek gewoond was en wat vir my bekend was. Nie omdat ek dit nie meer wou hê nie, ook nie omdat ek dit nie meer wou ken nie, maar bloot net omdat ek die ongelooflike begeerte gehad het om oor te begin. Om in ‘n plek aan te kom waar niemand jou ken nie. Waar jou Trônsvôlse aksent, jou Lucky Strike filters en Wellington en Coke jou weggee. Waar niemand weet wat jou natuurlike haarkleur of geskiedenis of enige iets soos dit is nie. Net om te wees wie jy – op die onsekere ouderdom van 21 – dink jy is.

My lewe het ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en binne ‘n kwessie van 90 dae was alles anders. Ek is werk aangebied in Port Elizabeth. Glo dit of nie, ek het nie eers geweet waar dit op die padkaart is nie. Ek het vir my ma ‘n boodskap gestuur: “Ek is werk aangebied in PE. Is dit naby die see? ” Toe sy sê “ja” toe weet ek; ék gaan soontoe. Ek het die storie bekyk, my kontrak per faks ontvang, my pa gevra om dit vir my deur te lees en die Maandag oggend eerste ding my bedankingsbrief ingehandig. Vier weke later het ek met al my aardse besittings die Trônsvôl verlaat.

Een aand laat lê ek en dink vanuit ‘n deurmekaar woonstel (dit was altyd deurmekaar, maar tydens die pakkery was dit veertig keer erger) in Pretoria. Dit tref my toe vir die eerste keer waarmee ek besig is. Dit was ongeveer ‘n week voor ek by my werk klaar gemaak het. Ek bid toe vir die Liewe Vader en vra of ek oraait gaan wees. Ek krap onder die klere en lakens vir my Bybel en slaat hom oop op die eerste plek. Ek lees vlugtig deur die twee blaaie waar hy oopgegaan het: “Jona. Jooo-eee-naaa-haaa, gaan na Nineve…” gaan sit die liedjie dadelik in my kop vas. Dankbaar sit ek die Bybel terug op die hoop goed wat nog nie in die tas pas nie. Ek weet toe: Dit is my pad. Ek sál oraait wees.

Bravo. Well done. Got the T-shirt… sewe maande later wou ek met alles wat in my was asseblief net huis toe gaan. Soos jy kan aflei, ek het nie. Ek het my trots in my sak gesteek en vir myself gesê: “Dit was jou keuse. Suck it up.” O, en ek het my man ontmoet, natuurlik, maar dit was ses weke na ek die versadigpunt van gatvol bereik het. Dalk moes ek vasbyt?

Jare na die groot trek het ek steeds na Lydenburg (ek het hier grootgeword en beide my susters woon steeds daar) as “huis toe” verwys. My mense was dan nog daar en dit was dan vir my bekend. Hoe kon ek dit nie “huis” noem nie? So met die verloop van tyd het dit stadigaan verander. Ek het gevind dat ek met minder en minder mense kontak begin maak het wanneer ek daar kom. Waar, aanvanklik, het ons ‘n groot geleentheid gereël waar mens sommer al die bekende gesigte op een slag kan sien. Later het dit ‘n vinnige middagete of glasie wyn in ‘n stil plekkie geword. Nooit was dit dat ek nie meer die mense wou sien nie, ek het net nie meer geweet hoe om myself daarmee te assosieer nie. Die handjievol goeie vriende is nie altyd meer daar wanneer ek onverwags in die dorpie aankom nie – veral nie oor ‘n naweek nie. ‘n Baie goeie vriend van my sien ek altyd wanneer ek daar is. Of ons probeer altyd iets saam doen, al is dit net baie vlugtig. Almal het aanbeweeg – alhoewel my sentiment vir my prulle jeug my steeds bygebly het.

Carte Blanche het een aand ‘n program oor Lydenburg gehad (http://carteblanche.dstv.com/player/499624/). Ons kyk nie televisie nie en min het ek geweet hoe erg dit is. Ja, jy sien mense kerm op Facebook, jy hoor wat jou sussies vertel oor die foon, maar jy besef nie hoe erg dit werklik is nie. Die Maandag het ‘n meisie in die kantoor vir my vertel: “Your hometown was on Carte Blanche last night.” Ek het dit afgelag en gesê: “It is not my hometown anymore.”

Vroeg in die jaar was ek weer in Lydenburg. Dit was ‘n disaster. Daar was nie krag nie. Ook nie water nie. Wanneer daar water was, was dit dieselfde kleur as flou aangemaakte tee. (Ek verafsku tee!) Ek het op my tande gekners en my sentiment oor die plek probeer hou. Die aand voor ons Pretoria toe ry vir my ouma se tagtigste verjaarsdag, gaan haal ek my vriend dat ons vinnig ‘n bier kan gaan drink. Ons sit in die plek waar ons ons hele lewe nog saam “’n bier gaan drink” het. Buiten die eienaar, was daar nie ‘n siel wie se gesig bekend gelyk het nie. Niemand. Niks. Dit was klaar. Toe ek my vriend by sy huis aflaai, toe weet ek: Alles het verander. Dit is nie meer dieselfde nie. Bullshit ek myself nog die hele tyd of was dit al lankal anders? Ek weet nie.

Terwyl ek so ry en top oor alles, tref ek ‘n slaggat in die middel van die dorp. Ek het in trane uitgebars en my sentiment net daar in die pothole gelos. Dit is verby. My vriende bly my vriende en my jeug bly my jeug, maar na nege jaar sê ek nou vir myself: Port Elizabeth is nou jou huis – suck it up.

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest