Volmaan – ‘n Gedig

Volmaan – ‘n Gedig

(Ek weet ongelukkig nie wie die prentjie geteken het nie.)

Onafhangende van wat jy mag dink, hierdie gedig is nie oor verlore liefde of enige iets soos dit nie. Ek het die gedig geskryf terwyl ek nog op skool was. Ons was in Mosambiek een vakansie en dit was volmaan die aand. Wanneer mens alleen sit, omsingel deur donker en stilte en die oneindige blou see, kan mens dit nie help om besonders klein te voel terwyl jy sit en verlang na iemand wat jy nie ken nie, en ook waarskynlik nie gaan ontmoet nie. Min dinge is so mooi soos die volmaan wat oor die see verskyn. Ongelukkig was die wolke daai aand van so aard dat ek nie die maan kon sien opkom nie. En dit is bloot waaroor die gedig gaan.

stowwerige silwer
blinkende blou smart
êrens in die grys heelal
blink daar nog ‘n hart

spikkeltjies kwik verduister
swart bome afgebrand
weet ek iemand luister
na die potlood in my hand

swart soutwater in my wonde
berge wolke bo my kop
sand kriewel tussen my tone
mismoedig gee ek op

baie liefde,

Ballonne vir my liefie-kind

ballonne vir my liefie-kindOpgewonde gaan lê ek op die gras en wag nadat ek myself flou gehardloop het. My bors beweeg stadiger op en af as wat ek my hart voel klop. Ek sien dat die najaar die veld oorgeneem het en ek maak my oë toe; die son laat my gedagtes helder word terwyl hy homself op my ooglede neerlê. Ek hoor haar tel. Een. Twee. En op drie maak ek dadelik my oë oop.  Honderde ballonne kom oor die blou aangesweef; skakerings van geel en rooi en pers en blou warrel deur die lug. Ek weier om my oë te knip en bewonder die kleure asof dit die eerste keer is wat ek dit ooit sien. Die laaste ballon is soos ‘n spatsel op ‘n verfdoek toe ek haar langs my kom hoor lê. Ek voel sy staar na my voor sy vra of ek gereed is om die ballonne los te laat dat sy ook kan sien. Ja, dink ek, ek het my beurt gehad om met ballonne in die veld rond te hardloop; om sorgvry laf te leef en deur die wind gewaai te word sonder om dit te bevraagteken. Ek spring opgewonde op en soen my liefie-kind op haar voorkop; “Nou gaan jy die mooi sien wat ek alreeds gesien het.”

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

Totsiens – ‘n Gedig

Ek is nie seker wie die foto geneem het nie, maar kliek gerus op hom om na die bladsy te gaan waar ek hom gekry het.

Ek is nie seker wie die foto geneem het nie, maar kliek gerus op hom om na die bladsy te gaan waar ek hom gekry het.

Vertroue en respek hou hande vas.
Trippel-trippel op jou tone
Trap-trap
Tree-vir-tree
Jou hand in myne
Jou geloof in jou gedagtes
Wanneer jy glo jy is reg.
Die ongeloof wanneer ek besef die vertroue is weg.
My respek in my broeksak
en die ander hand wuif jou vaarwel.

Die prinses en die ertjie – ‘n Gedig

prinses en die ertjie

Prentjie: Soju Shots

 

 

Die prinses en die ertjie

verdwaald in my emosie
verdoof deur gedagtes
van gister tot vandag
tot die innerlike gedeelte van my alles

my alles het tot niet omgekom
my alles tot oorverdowende stilte verstom
my alles die illusie van ‘n plek altyd verder
my alles nou kronkelpad krom

die spore van voete steeds onbekend
growwe sout hardhandig op my wonde aangewend
my are wil bars van frustrasie
strome vloei vanuit my hart – geskend

ek is die weerkaatsing in ‘n modderspieël
die vertakking in ‘n doringboom
die dagdroom van ‘n blinde
ek is die groen ertjie onder die matras

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

Pin It on Pinterest