ballonne vir my liefie-kind
Opgewonde gaan lê ek op die gras en wag nadat ek myself flou gehardloop het. My bors beweeg stadiger op en af as wat ek my hart voel klop. Ek sien dat die najaar die veld oorgeneem het en ek maak my oë toe; die son laat my gedagtes helder word terwyl hy homself op my ooglede neerlê. Ek hoor haar tel. Een. Twee. En op drie maak ek dadelik my oë oop.  Honderde ballonne kom oor die blou aangesweef; skakerings van geel en rooi en pers en blou warrel deur die lug. Ek weier om my oë te knip en bewonder die kleure asof dit die eerste keer is wat ek dit ooit sien. Die laaste ballon is soos ‘n spatsel op ‘n verfdoek toe ek haar langs my kom hoor lê. Ek voel sy staar na my voor sy vra of ek gereed is om die ballonne los te laat dat sy ook kan sien. Ja, dink ek, ek het my beurt gehad om met ballonne in die veld rond te hardloop; om sorgvry laf te leef en deur die wind gewaai te word sonder om dit te bevraagteken. Ek spring opgewonde op en soen my liefie-kind op haar voorkop; “Nou gaan jy die mooi sien wat ek alreeds gesien het.”

nogsteedslana_lanaland_lanabreedt

Subscribe to my once every full moon newsletter.

You have Successfully Subscribed!

Pin It on Pinterest